|
|
Ken jy vir Pofadder?
Weet jy waar dit lê?
In die Boesmanland. Vra my - ek is daar gebore. Baie mense vra my: waar
kom jy aan die idee van die Boesmanland Plaaskombuis?
Ek het
in so ’n kombuis grootgeword.
Wat ek doen, doen
ek met my hart en met my siel. Om dit behoorlik te kan doen moet jy
in so ’n kombuis grootgeword het. Wat ek hier doen lê in my
bloed, dit loop in my are en sit in my vel. Die klank van potte en panne
sit in my ore vanaf voor my geboorte. Die reuk van boerbrood, skaapkop,
kaiings, gebraaide vet, soetsuurdeeg, roosterkoek... ag sommer die reuk
en klank van kombuis en kos, sit tot in my siel. Vandag bak die mense
brood met yeast en dan noem almal mos dit tuisgebakte BOERbrood maar
dit is tuisgebakte BROOD. Ons brood is BOERBROOD. Aartappels suurdeeg.
Ons eie tuisgemaakte yeast, die natuurlike manier. Met ’n halwe
aartappel, ’n paar eetlepels sout, suiker, lou water en meel maak
jy suurdeeg wat oornag in komberse toegedraai word. More oggend moet
dit oorgesuur word en as dit reg is gooi jy dit in die meel en gooi
smeer by en bak boerbrood.
Dit is
’n hele proses en ek sê altyd dit is ’n kuns.
Daar is eintlik nie ’n resep nie.
Dit is alles ’n aanvoeling.
Jy moes in so ’n
kombuis grootgeword het... Die reuk van suurdeeg, panne wat vroegoggend
in die kombuis raas, ma wat hardloop en alles doen voor die deeg koud
word, die reuk van hout stowe. Dit moet alles in jou bloed lê. Behalwe
Boesmanland Plaaskombuis is daar sover ek weet nie nog iemand wat dit
elke dag bak nie. Ons suur vir vyf jaar lank al elke aand in. Knie elke
oggend vroeg 25kg meel met die hand. Ons voorsien 5 jaar lank al soetsuurdeeg
brode aan plaaslike winkels en lewer soetsuurdeegbeskuit af aan 4 van
Spar kettinggroep se groot winkels. Ek wil amper sê ek daag enige
ander ou uit om my te kom beat om hierdie suutsuurdeegbrode elke dag
so suksesvol onder dieselfde druk en tempo te kan bak. Ons gebruik ook
nog van die regte ou buite oonde sonder termometer.
Toe ek Boesmanland 3 jaar gelede begin het, het mense gepraat van...
die vrou is mal... Weinig het my ’n kans op sukses gegee. Op die
seiljagte hieronder ons, het die mense nie eers ’n sixpack bier
op my sukses wou verwed nie.
My plan.
1.Het die mooiste perseel met die wonderlikste see uitsig gaan soek wat
so bietjie uit die beskawing se oog is.
2.Het al my personeel bloedjonk - almal was onder 22 jaar aangestel. Niemand
het nog een dag in ’n restaurant gewerk nie en het ook geen opleiding
van enige aard gehad nie. Niemand het geweet hoe om regtig skottelgoed
te was nie, vloere te was, brood en beskuit te bak, kos te kook, vloere
te vee en om ’n vuur aan te steek nie. Mense het gesê ek moet
van die ouer garde aanstel, wat ten minste weet hoe om in te suur en om
’n buite oond se temperatuur met die hand te meet. My doel was juis
om die jong klomp te leer wat ek as ’n jong mens nog by ’n vrou
van 93 geleer het. So kan tradisie weer voortgaan en nie uitsterf nie
en ek het ook geweet dan doen hulle dit soos ek dit wil hê en nie
soos iemand anders hulle geleer het nie. Om by my te leer hoe om in te
suur en om kos in die groot swart potte te kook was die personeel se nagmerrie.
Reg van die begin af het ons lekker kos gekook maar wat die mense nie
geweet het nie, was dat die eerste jaar vir ons almal doodwerk en hard
leer was. Foute het ons gemaak, altyd die humor daarin probeer sien en
deeglik daaruit geleer. Vir my personeel is ek vandag ma en hulle is die
manne wat in ma se kombuis kan werk, lag leer en nogmaals doodwerk. En
wat is dan nou lekkerder as ma se kombuis.
3.Ek het van ’n restaurant bedryf niks geweet nie, het maar geleer
vir ’n skooljuffrou maar onderneem om ’n groot plek wat 220
mense kan hanteer te begin. ’n Heeltemal nuwe konsep in Suid-Afrika.
Baie
dankie Derek, Derette, Ouma Annie (Ma), Ou Sanna, Pofadder, Eduard,
Club Mykonos en al die baie goeie mense van Langebaan en die omgewing
wat so goed vir my is en was, my wonderlike kliente, maatskappye en
instansies, my personeel en die Man van my groot geloof.
My geskiedenis.
My ma was ’n
paar dae ouer as 46 toe ek gebore is. Sy is vandag 93 en ek is haar
9de en jongste kind. Plase was maar moelik om te boer met al die droogtes,
ons was seker nie ryk nie, maar ons het dit nie eens geweet nie. Daar
was soveel liefde, warmte en geluk. Die ma van my, het ek net in die
kombuis geken. Dit is ook oor die groot rol wat sy en ou Sanna, ma se
suster, in my lewe gespeel het en omdat ek hulle ou resepte en manier
van doen gebruik in die Plaaskombuis, ook omdat hulle hulle hele lewe
gewy het aan ons 9 kinders se opvoeding en geluk. Daarom dink ek verdien
die twee om op my logo te wees. Dit beskou ek as ’n eer wat ek
aan hulle wil bewys. Ma se hele lewe het net om kosmaak en skoonmaak
gedraai. Omdat daar niks anders was om op die plase te doen nie, het
jy ook maar gedoen wat jy sien ma doen. Om seep te kook saam met ma
in die groot swart potte op die oop vure en die loog te proe, om in
te suur en brood te bak, om slagdag te beleef en die galblaas of waterblaas
van die skaap te kry om mee te speel en om die skeertyd op die plaas
te kon beleef was maar ’n paar van die hoogtepunte.
1. My eerste
pophuis
toe ek my verstand gekry het was agter ma se kombuisdeur, tussen die kombuisedeur
en die yskas. Tot my netjiese ma se frustrasie, maar sy kon my tog besig
hou en onder haar voete uithou. My ouer susters het iewers vandaan waar
hulle studeer het vir my ’n piepklein stofie, wasmasjien, wasbak
en yskas gebring. Niks kon op hulle oopmaak of werk nie maar dit was die
wonderlikste speelgoed. Daarmee het ek vir my ’n kombuis uitgepak
met potte, panne en alles. My pop is uitgepak en vir haar is kos gekook.
Die kos was sommer net niks. Alles is maar so kamma-kamma gedoen.
2. My tweede
pophuis.
Dit was die wonderlikste huis van my kinderdae. Dit was my kalkklippophuis.
Jy het arms vol wit kalkklippe opgetel. Jy kon jou uitlewe. Groot stoepe
vir die warm dae in die boesmanland se son. Groot kombuise, slaapkamers,
en dan tog die toilet. Ons het net longdrop en kleinhuisie geken. Op die
dorp het jy die spoeltoilet by ander mense gesien en dit het jou so getrek
dat jy dit eerste in jou huis ingebou het. Daarvoor het die ou wasmasjien
se arm wat die wasgoed skoon geslaan het goed gewerk. Jy het hom net omgedraai.
Om die huis te bou was baie maklik. Jy het net jou arms vol witklippe
nodig gehad. Dan het jy geloop en jou plan met jou voet in die sand getrek.
Die voetplan is dan op die lyne met witklippe teenmekaar uitgepak sodat
die wind die huis nie elke nag doodwaai nie. Die skape op die plaas het
party nagte deur die deur die huise geploeg, maar die was pa se skape
en jy het maar weer die volgende dag reggemaak. Moenie dat iemand sommer
oor jou mure klim om in die kamers te kom nie, dit was moeilikheid. Hulle
moes in jou gang afloop en by jou deure ingaan. My ouer suster het haar
huis gehad en ek myne. My broer het altyd kom kuier. Vandag is ek baie
lief vir hom - daardie tyd het ek hom gehaat. Hy het altyd ’n groot
wit klip in elke hand gevat. Sy hande langs hom uitgestrek, nader gehardloop
en soos ’n vegvliegtuig gedreun. Dan hardloop hy oor en deur jou
huis en gooi bomme af. Sy wit kalkklip bomme het oral geval waar hulle
nie moes val nie. As die son sy kop soggens lig was ons in die pophuise
en daar moes ma haar vannaand as dit al sterk donker is doodsukkel om
ons uit te kry. Moeg, honger, verbrand en gebars van die stof moes sy
dan sukkel om jou in ’n kom gewas te kry. Die kos in hierdie klippophuis
was wille soutslaai vir vleis, growwe vleiklippies vir rys, grasstokkies
vir macaronie en die brood was gebak van droe boorgatklei. Dit is so ’n
vaal poeierklei en hy het beter gebind as Boesmanlandsand. Dan maak jy
hom nat. Neem ’n lee vuurhoutjiedosie, spoel dit uit met water, dan
met droog rooi sand, druk nou die nat boorgatklei daarin vas. Keer dit
dadelik uit op ’n gelyk stuk sand en laat oornag staan om droog te
word. More het jy ’n lekker broodjie. Jou broodmes was ’n stukkie
ystersaag wat jy op ’n ashoop gaan optel het. Daar was nie met regte
goed of regte kos gespeel nie. Al jou meubels en potte het jy op die ashoop
gekry. Myle geloop agter die ryk bure se ashope aan. Visblikke was potte.
Leeg vierkantige potte was tafels, stoele, stowe en yskaste. Beddens het
jy sommer in die sand geteken. Banke en goed ook as jy nie blikke kon
kry nie. Borde was plat plaatjies. Opskepbakke was halwe gebreekte vicks
potjies. Kan nie onthou of ons messe en vurke gehad het nie. Dit was my
lekkerste pophuis.
3. My derde
pophuis
onthou ek as klein en ek was altyd bang vir slange as ek daar ingaan.
Dit was onder die watertank. Die tank het twee sye gehad wat klaar gebou
was. So op ’n manier het my broer, suster en ek dit toegebou en toe
hulle skool toe gaan het dit net myne geword. Die meubels hier was maar
kartondose, houtkissies en gekoopte blikbordjies en bekertjies wat my
susters maar weer gebring het. Kos het ons sommer in ma se huis gevat
wat al klaar gaar was en net gemaak of ons dit kook. Daar het ons ook
ons pop gehad. Dit gebad en droog gemaak en kos gegee.
4. My vierde
pophuis.
Dit was nogal gewaag en ons kon die veld afbrand. Toe het ons regtig begin
kos kook. Jy het die kruiwae gevat en jou goed op hom gepak en vir die
dag veld toe getrek. Pa se velletjiesmsatte - die hesing matte waarop
die lammetjies se velletjies gedroog was - is op die kruiwae gelaai. ’n
Moter se ou mudguard was gelaai. Dit is jou stoof. Dan pak jy so drie
leeg visblikke vir potte. ’n Stuk brood, stuk rou vleis, rou aartappels
en rys met ’n potjie sout. Geen borde en messe. Jy eet met ’n
teelepel sommer so uit die blikpot uit. Nou stoot jy die kruiwae met sy
pakeraas tot by ’n lekker boompie. So het ons veertig jaar gelede
’n ring wat in ’n luckypacket was met ’n groot A op om
die klein boompie se stam gesit, en dit sit vandag nog so diep vasgegroei
in die boompie op die plaas. Ons ma het altyd gesê die kinders speel
daar in die ramkampie by die boompie. Amper die enigste boompie op die
plaas en was toe so hoog soos my kop. Nou ja as jy by die boompie kom
dan bou jy nou vir jou ’n skerm van die velletjiesmatte. Jy tel hout
op en pak dit onder die ou mudguard in en steek dit dan aan die brand.
Dan kook jy jou vleis in die een visblik met die aartappel. Ander visblik
met rys en een visblik met kookwater vir swart soet koffie later. Dit
was so ’n vuil en rou kokery, maar ons het nooit siek geword nie,
net lekker gespeel. My ma was so besig om huis te hou vir haar kinders
dat sy nie regtig geweet het hoe foeter ons op nie. Haar hart sou gaan
staan het. Ek het toe nie meer susters of broers gehad wat nog in die
skool is nie, so ek het maar die werkers op die plaas se kinders saamgesleep
en vir hulle gekook.
5. My vyfde
pophuis.
Toe raak ek grand. My heel oudste broer wat kom boer het, het vir hom
’n huis gebou net so ’n entjie van my ouers se huis af. Na ’n
paar jaar se boer trek hy toe dorp toe en koop vir hom ’n kafee en
help my ouers om sommer net van die dorp af te boer. Toe trek ek en my
poppe en my glas eetstel wat my oudste susters vir die twee jongstes gekoop
het in die huis in. My ma gee vir my haar ou parafien voetstofie. Houtkissies
vir meubels, ma se een ekstra bed wat sy daar stoor en ’n leeg badkamer
met ’n bad. Boeta! toe hou ek huis vir al die bure se kinders. Pa
kry koffie wat yskoud is. Daar word regtig gekook en aangebrand. As die
skool begin dan kom ma maar skoonmaak waar ons gelos het. Ons begin toe
mossies skiet met die airgun. Daar kom my suster se seun toe by wat so
twee jaar jonger as ek is. Toe begin die lekker gesonde kattekwaad. Ons
spring van die motorhuise se dakke af. Skiet mossies en kook kos. Span
vislyn deur die pophuis se dak en maak mossiebiltong. Trek die mossie
se vere af, dan trek jy die vel af. Nou gooi jy sout en dan hang jy die
mossie met bene en al op. Jy versnit hom darem. Later as die skool begin
moet ma die droog borsies, bene en karkasse kom weggooi. Sakke vol daarvan.
6. My sesde
en laaste kinderpophuis.
Dit was op Pofadder agter die koshuis se watertenks en agter die hoenderhokke.
Selfs die weeluise in die hoenderhokke kon my nie afsit nie. Daar het
ek geen kos of speelgoed gehad nie. Net boorgatklei en vuurhoutjiedose
om brood te bak en ek het al die kinders wat wou leer, geleer om modderbrode
te bak. In die aand het ek altyd die juffrou aan diens gesoebat om my
uit die studiesaal te laat, my werk is klaar en ek wil gaan speel. Het
nooit van enige ander kind geweet wat dit mag gedoen het nie, maar ek
is weinig of ooit geweier om te mag gaan. Dit was nou in my twee kleuterskool
jare. Daarna het die belangstelling vir die pophuis eers gaan lê.
....................................................
Ek het grootgeword,
skooljuffrou geword, getrou met drie kinders en later self een kind
gehad. So het ek toe maar vir my man en klomp kinders huisie-huisie
gespeel. Tot en met standard 7 op Pofadder het jy mos maar in jou eie
geslote wêreldjie geleef. Dit was nogal vir my ’n skok en ’n
aanpassing om standerd 8 in die Paarl te moet kennis maak met die groter
wêreld en die realiteite van die wêreld. Toe ek nog met my ouer
man trou en tussen sy ouer en wyser vriende beland, was ek nogal geneig
om ’n mening vir myself te hou en nie my oningeligtheid te wys
nie. So was ek by verskeie glansgeleenthede aan ’n eettafel waar
al die wyse en ouer dames oor die ete se wonderlike boerekos in vervoering
gegaan het. Dan wou ek vir hulle sê, maar waarvan praat julle, dit
is opgekookte vaal waterkos. Ken julle dan nie regte boerekos nie. Maar
ek het net stilgebly en dan het ek gedink toemaar eendag sal ek vir
julle regte boerekos kook. Mense wat by ons aan huis gekom het het hulle
altyd doodgeëet aan my kos. Vakansies het ons huis in Langebaan
altyd soos ’n hotel van mense en kinders gelyk. My broers en susters
wou nie kom kuier nie, want hulle het gesê daar is altyd mense by
ons.
....................................................
Nou so word my dogter
toe ook groter en toe sy hoërskool toe gaan begin ek vir sakgeld
klere maak vir boutieks. Ek kon nie in die klein wêreldjie van n
naaimasjien oorleef nie en is toe weer terug na die onderwys tot die
regering my daaruit gehaal het vir regstellende aksie en ek as getroude
vrou moes die onderwys los om plek te maak vir die jonges.
....................................................
Toe besluit ek my
ma moet vir my leer hoe om soetsuurdeegbrode te bak. Ek het die basiese
in die huis geleer maar dit was nie ver goed genoeg om boerbrood te
bak nie. ’n Vriendin, Frieda van Pofadder, wat toe net so ’n
entjie van my af bly kom my toe wys en toe kom my ma by my bly en leer
my behoorlik die trieks. Ek wou dit net leer om vir my ma na die ouetehuis
brood en beskuit te neem, want ek kon dit nerens koop nie, al wou ek
ook al my geld betaal. Dit was wat my ma die graagste wou he. Ook wou
ek net bietjie verkoop aan n tuisnywerheid om my kind op universieit
met sakgeld te help. Die bakkery begin toe in my huis. Later word dit
te groot en ek skuif dit na my garage, later begin ek nog oonde aankoop
en nog mense aanstel. Toe raak die garage te klein en toe betrek ek
die woonstel langs die garage ook. Nie lank nie of die is ook te klein.
Dit en nog ’n persoonlike krisis laat my toe besluit nou nou is
die regte tyd om uit te klim en daardie regte boerekos waarvan ek die
mense nooit vertel het nie te gaan maak. As die regte ou boerebeskuite
vir die mense so lekker is en ’n sukses is om te bak dan sal hulle
van regte boerekos ook hou. Nadat ek die besluit geneem het was dit
net asof dinge vir my so bestem en bedoel was. Dit was asof dinge net
vir my beplan was. Dit is ongelooflik harde werk, maar ek geniet omtrent
elke oomblik daarvan.
Wat ek
as baie uniek aan ons plek beskou:
1. Die ligging word daagliks deur toeriste as die beste ter wêreld
beskryf.
2. Die atmosfeer word daagliks deur toeriste as die beste ter wêreld
beskryf.
3. Dit is opelygeetplek met ’n heeltemal nuwe konsep.
4. Opelug maar bietjie meer gemaklik.
5. Dit is weer egte boerekos.
6. Die ou manier van dinge doen, maar wel deur jong mense.
7. Ons kook weer al die kos buite op oop vure in reuse swart potte, maak
weer regte moerkoffie wat in sy sak gebrou word.
8. Jy help jouself en eet wat jy wil, wanneer jy wil, hoe jy wil en hoeveel
jy wil.
9. Haal self jou koffie van die Dowerstofie af en skep self jou kos uit
reuse swart potte met reuse lepels.
10. Het weer ’n plek waar regte boerbrood en boerbeskuit te koop
is.
11. Kliente dink vir nasiebou, spanbou, en nog vele meer is dit die ideale
plek, want die atmosfeer maak dit net soveel makliker vir mense om te
ontspan en mekaar te bereik.
12. Dit is weer ’n plek waar enige jongmens wat wil kan kom leer
wat tradisie is.
13. Weer speel geen rol nie. Mooiweer maak ons die seile oop en sit u
op die strand. Slegte weer trek ons die seile toe.
14. Hier kan jy voel hoe dit is om met styl uit ’n blikbord te eet
en sop en moerkoffie uit ’n blikbeker te drink.
’n
Plek soos Boesmanland Plaaskombuis kan ’n mens nie regtig in woorde
beskryf nie. Dit is ’n ervaring. Kom kuier gerus.
Vriendelike Boesmanland groete,
Susan

|